Sqrindle
A.P. du Plessis

A.P. du Plessis

About A.P. du Plessis

ANDREAS PETRUS DU PLESSIS  -  (A.P.  DU PLESSIS,  ANDREAS DUPLESSIS)

Andreas Petrus du Plessis is gedurende 1934 gebore en is ’n Afrikaanse skrywer van spanningsverhale. Hy skryf ook onder die name A.P. du Plessis sowel as Andreas Duplessis. Hy het skool gegaan op Winburg, waar hy ’n skoolkoerant uitgegee het. Daarna studeer hy verder aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein, waar hy redakteur word van die studentetydskrif Shimla. Na afloop van sy studies sluit hy in Desember 1956 by die redaksie van Die Volksblad aan, ’n pos wat hy tot Mei 1963 beklee. Hint Hyman, hoofdirekteur van Keur Uitgewers, wie se hoofkantoor in daardie tyd in Bloemfontein was, vra hom dan om ’n vervolgverhaal vir die tydskrif Ster te skryf en om ook hierdie tydskrif se subredakteur te word. In hierdie pos skryf hy al hoe meer verhale.

Hyman stig Republikeinse Pers en skuif die hoofkantoor van Bloemfontein na Durban om hulle eie drukkery daar te vestig. Hulle begin ook met die druk van fotoverhaalboekies en eindelik skryf Du Plessis as vryskutskrywer sowat 1 500 van hierdie verhale, soos Mark Condor, Die Grensvegter, Die Wit Tier, Dr. Conrad Brand, Die Saboteur en Nagruiter. Hierdie fotoverhaalboekies was baie gewild in die 1960's en 1970's. Hy lewer as vryskut ook werk vir die vele tydskrifte in die Republikeinse Pers-groep, soos Kyk, See, True Africa, Samson, Rooi Rose, Personality, Femina, Garden and Home en Living and Loving. Op ’n stadium is hy waarnemende redakteur van Tempo en in beheer van verkiesingsblaaie van die Nasionale Party. Hy is ook betrokke by skryf van verskeie gewilde Afrikaanse rolprentdraaiboeke, soos Hoor my Lied, Jy is my Liefling, Sien jou More en Die Geheim van Nantes.

Sy werk is meestal spanningsverhale, onder andere die Oerwoudvalk-reeks. Dit is die verhale van die ongelooflike avonture van die Oerwoudvalk, ’n Afrikaanse jongman wie se ouers as sendelinge na die Kongo gekom het om onder die inheemse inwoners te bedien. Na hulle dood bly hy in die oerwoud agter, om op onkonvensionele wyse as hoof van die plaaslike stam inwoners, sy vader se sendingwerk voort te sit en die gemeenskap te beskerm teen gevare van buite. In die uitvoering van sy pligte deurkruis hy die digte woude van die Kongo, gewapen met net ’n pyl en boog, jagmes en geklee in ’n lendekleed van luiperdvel.

As joernalis soek Andreas du Plessis vir ses weke in Botswana, na die Verlore Stad van die Kalahari en hy spandeer ook twee maande inMosambiek, vir die stryd teen terroriste. Nadat Hyman Republikeinse Pers verkoop, werk hy vir nege jaar lank vir die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie in Natal. In Mei 1997 verhuis hy na Orania, waar hy op die munisipale direksie dien. Hy was getroud, maar sy vrou is al oorlede.

(Info obtained from Wikipedia).

https://www.softcoverbooks.co.za