Sqrindle
Nag van Geweld

Fiction & Literature

Nag van Geweld

Summary

Hierdie Sahara reeks boeke (40 boeke) gaan oor Teuns Stegmann se avonture in the Sahara woestyn. Saam met sy vier getroue vriende in die Franse Vreemdelegioen, ervaar hulle die een na die ander aksievolle, spannende en opwindende avonture.

Price

USD $6.99

Card

22. SAHARA AVONTUUR REEKS - NAG VAN GEWELD

Die verhaal begin in die snikhete Sahara woestyn by Fort Laval, ’n vesting van die Franse Vreemdelegioen. Teuns Stegmann, ’n lang, blonde Suid-Afrikaner, en sy Duitse vriend, Fritz Mundt, die sterkste reus in die legioen, bevind hulself in ’n verstikkende stilte. Hulle bespreek hul verveling en die feit dat hul vriendekring opgebreek is. Skielik is daar ’n opgewonde gepraat buite. Teuns gaan stel ondersoek in en vind uit dat die wagte iets in die woestyn gewaar het, ’n kameel. Hierdie ongewone gesig wek dadelik nuuskierigheid by die manne. Die kameel sleep iets onbekends agter hom aan. Sersant Catroux en ’n paar wagte, insluitend Teuns en Fritz, gaan die kameel tegemoet en ondersoek dit.

Teuns speel ’n sentrale rol in die ontvouing van die drama wat volg na die ontdekking van die kameel. Sy skerp waarnemingsvermoë en ongemaklike aanvoelings teenoor die drie vreemdelinge wat deur die kameel na die fort gebring word, lei tot drama. Hy daag luitenant Gaston Verrier, die besope bevelvoerder, se oordeel uit. Teuns se vermoedens, gebaseer op subtiele tekens soos die afwesigheid van skaafplekke aan die kameel, word eenvoudig deur Verrier verwerp. Die groeiende onheil word versterk deur ’n ongeleesde radioboodskap wat waarsku teen gevaarlike Algerynse rebelle in die omtrek. Teuns se pogings om die gevaar uit te wys, verhoog die spanning en dryf die verhaal na ’n onafwendbare krisis.

Die klimaks word gekenmerk deur ’n nag van verraad en geweld. Die drie “Franse” openbaar hul ware identiteit as Algerynse rebelle, wat die fort se poorte oopgooi vir ’n Arabiese aanval. Teuns, vasgevang in die chaos, veg met heldhaftige vasberadenheid. Hy en sy kamerade bevind hulself vasgekeer in die wapenkamer, beleër deur ’n vyandige mag en verraai deur diegene wat hulle as gaste verwelkom het. Die ware omvang van die gevaar, die geheime en die verborgenhede wat nog ontrafel moet word, hang soos ’n dreigende wolk oor die verhaal. En wat lê agter die rebelle se obsessie met luitenant Verrier?

#SaharaAvontuurStories




  • Pieter Haasbroek
    10 Apr 2022

    Dr. Frans Alwyn Venter (27 November 1916 - 8 Julie 1997) het in swaar tye groot geword. In die tydperke wat hy geboer het, was dit hoofsaaklik gedurende die depressie jare en moes hy toe boonop ook verskeie droogtes trotseer. Hierdie swaarkry jare het hom egter die rypheid en vasbeslotenheid gegee om met sy wonderlike stories vorendag te kom, wat vandag steeds hoog in aanvraag is en sal bly. Niks was maklik in sy lewe nie en moes hy baie hard werk in sy lewe om daarvan ’n sukses te kon maak. Hy was nie iemand wat tyd gehad het vir nonsens nie. As ’n soort van alleenloper, wat nie veel ooghare gehad het vir allerhande tipe groepe nie, het hy egter groot waardering en respek gehad vir die natuur, sy taal, sy volk, sy geskiedenis en veral sy medemens. Dit was altyd vir hom ’n plesier en genot om wanneer hy iemand ontmoet het, dan eers ’n vinnige geselsie aan te knoop met die persoon, om so die persoon beter te leer ken as om geïnteresseerd te wees in wat die persoon vir hom moes of kon doen. Voorwaar ’n baie rare eienskap wat agting en respek afdwing. F.A. Venter was ongetwyfeld ’n fenomenale skrywer, wie se gelyke moeilik gevind gaan word. Sy skrywersveld was breed gewees en elkeen van sy boeke word moeilik neergesit voor mens dit nie eers klaar gelees het nie. Onder sy eie naam het hy net ’n paar boeke geskryf. Ander skuilname wat hy gebruik het vir sy boeke was Meiring Fouche, Marius de Jongh, Elske te Water en Rene Stegman. Onder die skuilnaam Meiring Fouche skryf hy egter meeste van sy boeke en bereik gou groot hoogtes met veral sy vier trek boeke, Offerland, Gelofte land, Geknelde land en Bedoelde land. Sy boek Man van Cirene word allerweë beskou as die gewildste en is kort na die verskyning daarvan ook in verskeie tale vertaal. In totaal het F.A. Venter meer as negentig sagteband boeke geskryf en meer as veertig hardeband boeke! Hy het ook verskeie kortverhale geskryf vir tydskrifte en koerante en is sy boeke vandag nog steeds in aanvraag en uiters populêr by oud en jonk. Wat hom so uniek gemaak het as skrywer is die feit dat hy met sy skryfstyl die uitsonderlike vermoë gehad het om met een sin of ’n paar sinne, vir mens ’n hele storie kon optower in jou kop waarmee jy kon assosieer of dit in jou geestesoog kon sien afspeel. Jy hoef net die eerste een of twee paragrawe van enige van sy boeke te lees, om dan dadelik vasgevang te word en vasgevang gehou te word in die gegewe storie, tot jy die laaste bladsy in die boek gelees het. Tesame met uitstekende beskrywings van al sy stories, met die minste woorde moontlik, maak dat die leser geweldig uitsien om sy volgende boek gelees te kry. In die Sahara Avontuur reeks ontmoet jy vir Teuns Stegmann, ’n uiters dapper, slim en talentvolle Suid Afrikaner. Sy broer se vegvliegtuig is afgeskiet oor die magtige Sahara woestyn deur ’n Duitse vlieënier, gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Woestyn Arabiere het hom toe blykbaar gevange geneem en hom later dood gemaak voor hy kon ontsnap. Om die dood van sy broer te gaan wreek, verlaat Teuns toe sy pragtige wynplaas in die Hexvallei en gaan sluit hom aan by die Franse Vreemdelegioen. Daar maak hy gou groot vriende met ʼn Pool, ʼn Italianer, ʼn Engelsman en ʼn Duitser. Saam durf die vyf van hulle die magtige Sahara woestyn aan met al sy gevare wat gedurig deur om elke hoek en draai skuil. As dit nie die Arabiere is wat hulle lewens bedreig nie, dan is dit een of ander mal professor was geheime gas wil gebruik om hulle Vreemdelegioen soldate mee uit te roei. Met een na die ander spannende en aksievolle avontuur wat oor hulle pad kom, is dit telkemale Teuns Stegmann se briljante brein en ongelooflike dapperheid wat hulle uit die moeilikheid red. Hierdie reeks van veertig boeke in die Sahara avontuur reeks, uit die pen van F.A. Venter onder die skuilnaam van Meiring Fouche, sal jou altyd bybly. Dit is beslis ’n Sahara reeks stories sonder weerga wat oud en jonk kan geniet. As jy dus hou van verhale uit die boonste rakke, wat afspeel in die magtige en dodelike Sahara woestyn, dan is hierdie reeks net vir jou. Dit is so goed geskryf dat mens dit elke vyf jaar weer uit die kas gaan haal om van vooraf te lees en geniet. Saam met ʼn warm koppie koffie of ʼn glasie wyn in die hand, is daar niks wat die reeks klop vir aksie en avontuur nie!


You can get % of commission by promoting my book, please signup to my affiliate program using the link below.
Payouts are after days of purchase.