Hierdie Sahara reeks boeke (40 boeke) gaan oor Teuns Stegmann se avonture in the Sahara woestyn. Saam met sy vier getroue vriende in die Franse Vreemdelegioen, ervaar hulle die een na die ander aksievolle, spannende en opwindende avonture.
USD $6.99
37. SAHARA AVONTUUR REEKS - DIE SWAARD VAN VERWOESTING
Die verhaal begin in die Franse Ministerie van Oorlog in Parys, waar generaal Zelle ontstel word deur kolonel Pons se nuus dat die Swaard van Doetra verdwyn het. Hierdie swaard, ʼn simbool van mag vir die Arabiese volke, is uit sy brandkluis gesteel. Generaal Zelle stuur vir Dubois van die militêre geheime diens uit om die swaard terug te vind, en ook ʼn boodskap na generaal Laval in Noord-Afrika om alle garnisoene in gereedheid te bring vir ʼn moontlike aanval. Intussen is Teuns Stegmann, ʼn Suid-Afrikaanse legioen man, op verlof in Algiers, waar hy deur ʼn aantreklike danseres, Lola, verlei word.
Teuns Stegmann, word in ’n lokval gelei, waar hy ontdek dat Lola eintlik ʼn Bonnet is, die suster van El Karima en Brigitte, en dat hy gevange geneem is om verantwoording te doen vir sy rol in El Karima se dood. Hy vind uit dat die Swaard van Doetra, wat onlangs gesteel is, by die Doelak volk se vesting bewaar word. Die verhaal ontvou met Teuns in ’n desperate situasie, nie net moet hy sy eie lewe red nie, maar hy besef ook die gevolge van die swaard se verdwyning en die moontlike grootskaalse oorlog wat daardeur veroorsaak kan word. Deurentyd moet hy planne maak om uit die kloue van die rebelle te ontsnap en terselfdertyd probeer hy om die swaard terug te steel voor dit ’n volskaalse oorlog in die woestyn kan ontketen.
Teuns Stegmann beraam ’n gewaagde plan wat El Hakim, ’n gevange vliegtuigkundige, betrek. Hy gebruik sy vernuf en kundigheid, terwyl hy voortdurend die dreigende gevare trotseer, om soveel tyd as moontlik te wen en die rebelle in verwarring te dompel. Sy finale plan maak staat op ’n beroep op Lola se gewete en ’n desperate poging om te ontsnap met die Swaard van Doetra. Watter geheime is Lola nog besig om weg te steek vir Teuns, gaan sy hom weer verraai en watter ander gevare wag nog op Teuns Stegmann in die stad van Doetra?
#SaharaAvontuurStories
Dr. Frans Alwyn Venter (27 November 1916 - 8 Julie 1997) het in swaar tye groot geword. In die tydperke wat hy geboer het, was dit hoofsaaklik gedurende die depressie jare en moes hy toe boonop ook verskeie droogtes trotseer. Hierdie swaarkry jare het hom egter die rypheid en vasbeslotenheid gegee om met sy wonderlike stories vorendag te kom, wat vandag steeds hoog in aanvraag is en sal bly. Niks was maklik in sy lewe nie en moes hy baie hard werk in sy lewe om daarvan ’n sukses te kon maak. Hy was nie iemand wat tyd gehad het vir nonsens nie. As ’n soort van alleenloper, wat nie veel ooghare gehad het vir allerhande tipe groepe nie, het hy egter groot waardering en respek gehad vir die natuur, sy taal, sy volk, sy geskiedenis en veral sy medemens. Dit was altyd vir hom ’n plesier en genot om wanneer hy iemand ontmoet het, dan eers ’n vinnige geselsie aan te knoop met die persoon, om so die persoon beter te leer ken as om geïnteresseerd te wees in wat die persoon vir hom moes of kon doen. Voorwaar ’n baie rare eienskap wat agting en respek afdwing. F.A. Venter was ongetwyfeld ’n fenomenale skrywer, wie se gelyke moeilik gevind gaan word. Sy skrywersveld was breed gewees en elkeen van sy boeke word moeilik neergesit voor mens dit nie eers klaar gelees het nie. Onder sy eie naam het hy net ’n paar boeke geskryf. Ander skuilname wat hy gebruik het vir sy boeke was Meiring Fouche, Marius de Jongh, Elske te Water en Rene Stegman. Onder die skuilnaam Meiring Fouche skryf hy egter meeste van sy boeke en bereik gou groot hoogtes met veral sy vier trek boeke, Offerland, Gelofte land, Geknelde land en Bedoelde land. Sy boek Man van Cirene word allerweë beskou as die gewildste en is kort na die verskyning daarvan ook in verskeie tale vertaal. In totaal het F.A. Venter meer as negentig sagteband boeke geskryf en meer as veertig hardeband boeke! Hy het ook verskeie kortverhale geskryf vir tydskrifte en koerante en is sy boeke vandag nog steeds in aanvraag en uiters populêr by oud en jonk. Wat hom so uniek gemaak het as skrywer is die feit dat hy met sy skryfstyl die uitsonderlike vermoë gehad het om met een sin of ’n paar sinne, vir mens ’n hele storie kon optower in jou kop waarmee jy kon assosieer of dit in jou geestesoog kon sien afspeel. Jy hoef net die eerste een of twee paragrawe van enige van sy boeke te lees, om dan dadelik vasgevang te word en vasgevang gehou te word in die gegewe storie, tot jy die laaste bladsy in die boek gelees het. Tesame met uitstekende beskrywings van al sy stories, met die minste woorde moontlik, maak dat die leser geweldig uitsien om sy volgende boek gelees te kry. In die Sahara Avontuur reeks ontmoet jy vir Teuns Stegmann, ’n uiters dapper, slim en talentvolle Suid Afrikaner. Sy broer se vegvliegtuig is afgeskiet oor die magtige Sahara woestyn deur ’n Duitse vlieënier, gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Woestyn Arabiere het hom toe blykbaar gevange geneem en hom later dood gemaak voor hy kon ontsnap. Om die dood van sy broer te gaan wreek, verlaat Teuns toe sy pragtige wynplaas in die Hexvallei en gaan sluit hom aan by die Franse Vreemdelegioen. Daar maak hy gou groot vriende met ʼn Pool, ʼn Italianer, ʼn Engelsman en ʼn Duitser. Saam durf die vyf van hulle die magtige Sahara woestyn aan met al sy gevare wat gedurig deur om elke hoek en draai skuil. As dit nie die Arabiere is wat hulle lewens bedreig nie, dan is dit een of ander mal professor was geheime gas wil gebruik om hulle Vreemdelegioen soldate mee uit te roei. Met een na die ander spannende en aksievolle avontuur wat oor hulle pad kom, is dit telkemale Teuns Stegmann se briljante brein en ongelooflike dapperheid wat hulle uit die moeilikheid red. Hierdie reeks van veertig boeke in die Sahara avontuur reeks, uit die pen van F.A. Venter onder die skuilnaam van Meiring Fouche, sal jou altyd bybly. Dit is beslis ’n Sahara reeks stories sonder weerga wat oud en jonk kan geniet. As jy dus hou van verhale uit die boonste rakke, wat afspeel in die magtige en dodelike Sahara woestyn, dan is hierdie reeks net vir jou. Dit is so goed geskryf dat mens dit elke vyf jaar weer uit die kas gaan haal om van vooraf te lees en geniet. Saam met ʼn warm koppie koffie of ʼn glasie wyn in die hand, is daar niks wat die reeks klop vir aksie en avontuur nie!