Hierdie Sahara reeks boeke (40 boeke) gaan oor Teuns Stegmann se avonture in the Sahara woestyn. Saam met sy vier getroue vriende in die Franse Vreemdelegioen, ervaar hulle die een na die ander aksievolle, spannende en opwindende avonture.
USD $6.99
13. SAHARA AVONTUUR REEKS - BLOED OOR DIE DUINE
In Dini Salam, ’n voorpos van die Franse Vreemdelegioen in die Sahara, ontvang radiotegnikus Gide ’n angswekkende boodskap. Oliekamp D word aangeval deur onbekendes in Legioen uniforms. Hierdie ontstellende nuus bereik kolonel Le Clerq, wat reeds bekommerd is oor ’n vermiste patrollie. Te midde van hierdie spanning, staan Teuns Stegmann, ’n lang, blonde Suid-Afrikaner, onder die stort en bespiegel oor ’n nuwe rekruut, Metaxas, ’n donker man wat verdag voorkom. ’n Konfrontasie volg, waar Teuns vir Metaxas daarvan beskuldig dat hy ’n Rus is en nie ’n Griek nie. ’n Vuisslanery breek uit, wat deur sersant Zhakof onderbreek word, maar die onderliggende spanning daarvan bly hang in die lug.
Teuns speel ’n sleutelrol in die gebeure wat daarna ontvou. Hy is deel van die vyftig man sterk ekspedisie onder leiding van kaptein D’Arlan, wat gestuur word om Oliekamp C te gaan beskerm. Teuns se skerpsinnigheid lei hom om perdespore naby die kamp op te merk, wat D’Arlan onraad laat vermoed. Die spanning styg soos hulle die verlate kamp nader, waar ʼn onheilspellende stilte heers. Teuns se vermoedens word bevestig wanneer hulle ’n bloedspoor onder ’n staaldeur ontdek, wat lei tot ’n toneel van afgryse in die werkswinkel. Teuns se intuïsie oor Metaxas word skrikwekkend bevestig wanneer hulle besef dat die kamp nooit die waarskuwings boodskap ontvang het nie. Die ontmoeting met Koebikof, ’n reusagtige Rus, en Madame Bonnet se stryder, openbaar die omvang van die sameswering. Teuns en Fritz Mundt word gyselaars, terwyl D’Arlan gestuur word om die res van die patrollie te gaan haal.
Teuns se vinnige denke en dapperheid kom na vore wanneer hy en Fritz ’n ontsnappingspoging uitvoer, maar hulle word weer gevang en wreed behandel. D’Arlan, vasgevang in ’n dodelike dilemma, neem ’n desperate besluit wat Teuns en Fritz se lewens in gevaar stel. Die wind word ’n bondgenoot in ’n gewaagde ontsnappings plan. D’Arlan beplan om vir Teuns en Fritz te probeer red met amper vyftig man tot sy beskikking. Die ontknoping is gevul met intriges, want Teuns vind hom in ’n situasie wat sy vermoëns tot die uiterste sal toets. Sal die poging tot redding vir Teuns sy grootste uitdaging ooit wees? Die ware aard van die vyand word onthul in ’n geheim wat nog ontrafel moet word...
#SaharaAvontuurStories
Dr. Frans Alwyn Venter (27 November 1916 - 8 Julie 1997) het in swaar tye groot geword. In die tydperke wat hy geboer het, was dit hoofsaaklik gedurende die depressie jare en moes hy toe boonop ook verskeie droogtes trotseer. Hierdie swaarkry jare het hom egter die rypheid en vasbeslotenheid gegee om met sy wonderlike stories vorendag te kom, wat vandag steeds hoog in aanvraag is en sal bly. Niks was maklik in sy lewe nie en moes hy baie hard werk in sy lewe om daarvan ’n sukses te kon maak. Hy was nie iemand wat tyd gehad het vir nonsens nie. As ’n soort van alleenloper, wat nie veel ooghare gehad het vir allerhande tipe groepe nie, het hy egter groot waardering en respek gehad vir die natuur, sy taal, sy volk, sy geskiedenis en veral sy medemens. Dit was altyd vir hom ’n plesier en genot om wanneer hy iemand ontmoet het, dan eers ’n vinnige geselsie aan te knoop met die persoon, om so die persoon beter te leer ken as om geïnteresseerd te wees in wat die persoon vir hom moes of kon doen. Voorwaar ’n baie rare eienskap wat agting en respek afdwing. F.A. Venter was ongetwyfeld ’n fenomenale skrywer, wie se gelyke moeilik gevind gaan word. Sy skrywersveld was breed gewees en elkeen van sy boeke word moeilik neergesit voor mens dit nie eers klaar gelees het nie. Onder sy eie naam het hy net ’n paar boeke geskryf. Ander skuilname wat hy gebruik het vir sy boeke was Meiring Fouche, Marius de Jongh, Elske te Water en Rene Stegman. Onder die skuilnaam Meiring Fouche skryf hy egter meeste van sy boeke en bereik gou groot hoogtes met veral sy vier trek boeke, Offerland, Gelofte land, Geknelde land en Bedoelde land. Sy boek Man van Cirene word allerweë beskou as die gewildste en is kort na die verskyning daarvan ook in verskeie tale vertaal. In totaal het F.A. Venter meer as negentig sagteband boeke geskryf en meer as veertig hardeband boeke! Hy het ook verskeie kortverhale geskryf vir tydskrifte en koerante en is sy boeke vandag nog steeds in aanvraag en uiters populêr by oud en jonk. Wat hom so uniek gemaak het as skrywer is die feit dat hy met sy skryfstyl die uitsonderlike vermoë gehad het om met een sin of ’n paar sinne, vir mens ’n hele storie kon optower in jou kop waarmee jy kon assosieer of dit in jou geestesoog kon sien afspeel. Jy hoef net die eerste een of twee paragrawe van enige van sy boeke te lees, om dan dadelik vasgevang te word en vasgevang gehou te word in die gegewe storie, tot jy die laaste bladsy in die boek gelees het. Tesame met uitstekende beskrywings van al sy stories, met die minste woorde moontlik, maak dat die leser geweldig uitsien om sy volgende boek gelees te kry. In die Sahara Avontuur reeks ontmoet jy vir Teuns Stegmann, ’n uiters dapper, slim en talentvolle Suid Afrikaner. Sy broer se vegvliegtuig is afgeskiet oor die magtige Sahara woestyn deur ’n Duitse vlieënier, gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Woestyn Arabiere het hom toe blykbaar gevange geneem en hom later dood gemaak voor hy kon ontsnap. Om die dood van sy broer te gaan wreek, verlaat Teuns toe sy pragtige wynplaas in die Hexvallei en gaan sluit hom aan by die Franse Vreemdelegioen. Daar maak hy gou groot vriende met ʼn Pool, ʼn Italianer, ʼn Engelsman en ʼn Duitser. Saam durf die vyf van hulle die magtige Sahara woestyn aan met al sy gevare wat gedurig deur om elke hoek en draai skuil. As dit nie die Arabiere is wat hulle lewens bedreig nie, dan is dit een of ander mal professor was geheime gas wil gebruik om hulle Vreemdelegioen soldate mee uit te roei. Met een na die ander spannende en aksievolle avontuur wat oor hulle pad kom, is dit telkemale Teuns Stegmann se briljante brein en ongelooflike dapperheid wat hulle uit die moeilikheid red. Hierdie reeks van veertig boeke in die Sahara avontuur reeks, uit die pen van F.A. Venter onder die skuilnaam van Meiring Fouche, sal jou altyd bybly. Dit is beslis ’n Sahara reeks stories sonder weerga wat oud en jonk kan geniet. As jy dus hou van verhale uit die boonste rakke, wat afspeel in die magtige en dodelike Sahara woestyn, dan is hierdie reeks net vir jou. Dit is so goed geskryf dat mens dit elke vyf jaar weer uit die kas gaan haal om van vooraf te lees en geniet. Saam met ʼn warm koppie koffie of ʼn glasie wyn in die hand, is daar niks wat die reeks klop vir aksie en avontuur nie!