Hierdie Sahara reeks boeke (40 boeke) gaan oor Teuns Stegmann se avonture in the Sahara woestyn. Saam met sy vier getroue vriende in die Franse Vreemdelegioen, ervaar hulle die een na die ander aksievolle, spannende en opwindende avonture.
USD $6.99
SAHARA AVONTUUR REEKS - MADEMOISELLE JULIE
Ongeveer 2000 Doelaks omsingel Fort Laval en eis van die Franse Vreemdelegioen bevelvoerder, kaptein Gaston Lefevre, om die fort sonder slag of stoot oor te gee. Dit plaas hom in ʼn uiters netelige posisie, want die Doelaks beweer dat hulle sy dogter, Julie Lefevre, geskaak het en dat hulle haar sal doodmaak indien hy en al sy manskappe nie die fort dadelik ontruim nie. Die Arabiese sjeik belowe hom dat hy net belangstel in die fort en niks anders nie. Kaptein Levefre besluit om te voldoen aan die versoek, tot groot skok van al sy manne en vra toe ʼn vrywilliger om sy dogter te gaan haal en die finale reëlings te gaan tref. Die Suid-Afrikaner Teuns Stegman, is die enigste een wat vorentoe tree en bereid is om die uiters gevaarlike taak aan te pak.
Terwyl Teuns op pad is na die Doelak kamp, net buite die fort, besluit sersant Zhakof om beheer oor die fort te neem en vir kaptein Lefevre onder arres te plaas. Hy sein vir Teuns om onmiddellik terug te kom, maar voor Teuns die fort kan bereik, word hy gevange geneem deur die Doelaks. In die sjeik se hooftent ontmoet hy vir Julie Lefevre, een van die mooiste vroue wat hy nog gesien het. Die sjeik gee vir Teuns presies vyftien minute om terug te gaan fort toe en die oorname van die fort te eis, anders sterf Julie. Teuns daag toe nooit op nie, maar in sy plek daag kaptein Lefevre skielik uit die bloute op, tot groot verbasing van die sjeik. Hy neem hom toe na die Fort toe om die oorname van die fort te gaan eis.
Toe hulle egter die fort bereik, kry hulle tot hulle uiterste skok en verbasing ʼn leë fort, met geen soldaat êrens in die fort versteek nie. Hulle sukkel om die geheim uit te pluis, want hoe kon al die soldate onwetend deur die Doelak-linie dring wat rondom die fort opgestel is en toe ook net spoorloos verdwyn. Sjeik Feisan gebied vir kaptein Lefevre om hom na die wapenkamer te vergesel, want dit is eintlik die wapens en ammunisie waarin hy regtig belangstel. Maar weereens is die sjeik erg teleurgesteld, want wat hy daar vind is nie wat hy enigsins verwag het nie. Asof dit nie al is nie, gebeur daar nog iets in die wapenkamer wat die Doelaks in ʼn uiters benarde situasie plaas. Gou vlieg die lood in alle rigtings en die een spannende situasie op die volgende vind plaas, tot groot frustrasie en ellende vir die sjeik en sy volgelinge. Tussen die sjeik en dit waarvoor hy gekom het, is daar een baie dapper en intelligente man wat hom groot hoofberekenings gee en die een plan na die ander van hom in die wiele bly ry...
#SaharaAvontuurStories
Dr. Frans Alwyn Venter (27 November 1916 - 8 Julie 1997) het in swaar tye groot geword. In die tydperke wat hy geboer het, was dit hoofsaaklik gedurende die depressie jare en moes hy toe boonop ook verskeie droogtes trotseer. Hierdie swaarkry jare het hom egter die rypheid en vasbeslotenheid gegee om met sy wonderlike stories vorendag te kom, wat vandag steeds hoog in aanvraag is en sal bly. Niks was maklik in sy lewe nie en moes hy baie hard werk in sy lewe om daarvan ’n sukses te kon maak. Hy was nie iemand wat tyd gehad het vir nonsens nie. As ’n soort van alleenloper, wat nie veel ooghare gehad het vir allerhande tipe groepe nie, het hy egter groot waardering en respek gehad vir die natuur, sy taal, sy volk, sy geskiedenis en veral sy medemens. Dit was altyd vir hom ’n plesier en genot om wanneer hy iemand ontmoet het, dan eers ’n vinnige geselsie aan te knoop met die persoon, om so die persoon beter te leer ken as om geïnteresseerd te wees in wat die persoon vir hom moes of kon doen. Voorwaar ’n baie rare eienskap wat agting en respek afdwing. F.A. Venter was ongetwyfeld ’n fenomenale skrywer, wie se gelyke moeilik gevind gaan word. Sy skrywersveld was breed gewees en elkeen van sy boeke word moeilik neergesit voor mens dit nie eers klaar gelees het nie. Onder sy eie naam het hy net ’n paar boeke geskryf. Ander skuilname wat hy gebruik het vir sy boeke was Meiring Fouche, Marius de Jongh, Elske te Water en Rene Stegman. Onder die skuilnaam Meiring Fouche skryf hy egter meeste van sy boeke en bereik gou groot hoogtes met veral sy vier trek boeke, Offerland, Gelofte land, Geknelde land en Bedoelde land. Sy boek Man van Cirene word allerweë beskou as die gewildste en is kort na die verskyning daarvan ook in verskeie tale vertaal. In totaal het F.A. Venter meer as negentig sagteband boeke geskryf en meer as veertig hardeband boeke! Hy het ook verskeie kortverhale geskryf vir tydskrifte en koerante en is sy boeke vandag nog steeds in aanvraag en uiters populêr by oud en jonk. Wat hom so uniek gemaak het as skrywer is die feit dat hy met sy skryfstyl die uitsonderlike vermoë gehad het om met een sin of ’n paar sinne, vir mens ’n hele storie kon optower in jou kop waarmee jy kon assosieer of dit in jou geestesoog kon sien afspeel. Jy hoef net die eerste een of twee paragrawe van enige van sy boeke te lees, om dan dadelik vasgevang te word en vasgevang gehou te word in die gegewe storie, tot jy die laaste bladsy in die boek gelees het. Tesame met uitstekende beskrywings van al sy stories, met die minste woorde moontlik, maak dat die leser geweldig uitsien om sy volgende boek gelees te kry. In die Sahara Avontuur reeks ontmoet jy vir Teuns Stegmann, ’n uiters dapper, slim en talentvolle Suid Afrikaner. Sy broer se vegvliegtuig is afgeskiet oor die magtige Sahara woestyn deur ’n Duitse vlieënier, gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Woestyn Arabiere het hom toe blykbaar gevange geneem en hom later dood gemaak voor hy kon ontsnap. Om die dood van sy broer te gaan wreek, verlaat Teuns toe sy pragtige wynplaas in die Hexvallei en gaan sluit hom aan by die Franse Vreemdelegioen. Daar maak hy gou groot vriende met ʼn Pool, ʼn Italianer, ʼn Engelsman en ʼn Duitser. Saam durf die vyf van hulle die magtige Sahara woestyn aan met al sy gevare wat gedurig deur om elke hoek en draai skuil. As dit nie die Arabiere is wat hulle lewens bedreig nie, dan is dit een of ander mal professor was geheime gas wil gebruik om hulle Vreemdelegioen soldate mee uit te roei. Met een na die ander spannende en aksievolle avontuur wat oor hulle pad kom, is dit telkemale Teuns Stegmann se briljante brein en ongelooflike dapperheid wat hulle uit die moeilikheid red. Hierdie reeks van veertig boeke in die Sahara avontuur reeks, uit die pen van F.A. Venter onder die skuilnaam van Meiring Fouche, sal jou altyd bybly. Dit is beslis ’n Sahara reeks stories sonder weerga wat oud en jonk kan geniet. As jy dus hou van verhale uit die boonste rakke, wat afspeel in die magtige en dodelike Sahara woestyn, dan is hierdie reeks net vir jou. Dit is so goed geskryf dat mens dit elke vyf jaar weer uit die kas gaan haal om van vooraf te lees en geniet. Saam met ʼn warm koppie koffie of ʼn glasie wyn in die hand, is daar niks wat die reeks klop vir aksie en avontuur nie!